Kenner bevraagteken Kavango-eksplorasie

Olie-eksplorasie in die Kavango-gebied lok steeds internasionaal reaksie uit. Die bekende omgewingsaktivis van Nigerië Nnimmo Bassey sê dit is kommerwekkend dat regerings in ontwikkelende lande wêreldwyd toelaat dat internasionale maatskappye hulle oorreed dat olie-eksplorasie groot inkomstes sal lewer sonder enige ekologiese skade en verder, dat die tipe van eksplorasie ontwikkeling sal meebring. Bassey skryf dat in daar groot feesvieringe was in 1956 in die Niger-delta in Nigerië toe die eerste put geboor is. Die eerste olie is reeds in 1958 ontgin en tot dusver is 5 200 putte geboor met 603 wat olie lewer. Tans word die gebied erken as een van die top tien mees besoedelde gebiede ter wêreld en die lewensverwagting van inwoners in die gebied is 41 jaar. Volgens Bassey behoort daar geen meer eksplorasie vir olie te wees nie. Die wêreld beweeg weg van olie na hernubare energiebronne.