Kenia klop Nigerië net-net

Die T20 Afrika Wêreldbeker-kwalifiseerder tussen Kenia en Nigerië het onverwags op ‘n spannende noot geëindig toe Kenia eers in die laaste boulbeurt, met net een bal oor, die oorwinning kon beklink. Toe Irfan Karim met 16 lopies van 20 balle ná 17.2 boulbeurte agter die paaltjies gevang word, was Kenia op 95 vir 6 en het nog 27 lopies van 16 balle nodig gehad. Die 34-jarige veteraan Shem Ngoche het egter opgestap en is as speler van die wedstryd aangewys vir sy belangrike onoorwonne 23 lopies van 11 balle tydens Kenia se jaag van 122 wat Nigerië op die United-veld opgestel het.