Kaunda word op 7 Julie begrawe

Zambië se oudpresident Kenneth Kaunda sal op 7 Julie ter ruste gelê word. Die 97-jarige Kaunda is verlede week in die hoofstad Lusaka in ‘n hospitaal dood. Hy het die land regeer sedert die onafhanklikheid van Engeland in 1964 tot sy aftrede in 1991. Die Zambiese regering het aangekondig dat ‘n staatsgedenkdiens op 2 Julie by die Nasionale Heldestadion gehou sal word. Kaunda sal vyf dae later tydens ‘n privaat seremonie vir familie en genooide gaste in die presidensiële begraafplaas in Lusaka begrawe word.