Karibib-oorskot: Net DNS-toetse kan bevestig of dit Adrian is

Die Namibiese polisie sê hulle vermoed dat ‘n verminkte liggaam wat in ‘n sak naby ‘n riooldam by Karibib gevind is, is dit van die sesjarige seuntjie Adrian Oswyn wat verlede week as vermis aangemeld is. Oswyn het weggeraak van die Harambee gebied op die dorp op pad van sy oupa na sy ma se huis. Kommissaris Nikolaus Kupembona, die streeksbevelvoerder van Erongo het bevestig die liggaam is onthoof, en hulle probeer steeds om die identiteit daarvan te bevestig. Volgens hom is net sommige liggaamsdele, soos die bene en die arms gevind en DNS-toetse is nodig om die oorskot te identifiseer. Dit is ook nie bekend wanneer die oorskot in die riooldam gegooi is nie. Hy sê ‘n persoon van belang is in aanhouding. Oswyn se ma, Rieta Seibes, het Vrydag ontdek hy is vermis toe sy skoon klere vir hom na sy oupa se huis geneem het.