Kapofi doen verslag oor Lesotho-verkiesings

Die Namibiese verdedigingsminister Frans Kapofi, het as hoof van die SAOG-sending by Vrydag se verkiesings in Lesotho, gesê die proses was vry en regverdig. Hy sê daar was geen geweld by enige stembusse nie en lede van die polisie wat ontplooi was, was professioneel. By 80 persent van die stembusse kon alle persone stem en die wat nie kon stem nie was nie op die kiesersrol aangeteken nie. Stembusse het op tyd oopgemaak en die wat later gesluit het was as gevolg van lang rye kiesers wat ‘n geleentheid gegun is om te stem. Kapofi het wel bygevoeg dat die land se verkiesingskommissie meer inligtingsveldtogte van stapel moet stuur om kiesers te bemagtig en die land moet meer insklusief wees met jeug en vroue in die politiek. Teen Sondagmiddag was die uitslae in vir 49 uit ‘n totaal van 80 kiesafdelings. Die Revolution for Prosperity-party, wat in Maart deur Sam Matekane gestig is, het 41 setels behaal, die minimum wat nodig is om ‘n gewone meerderheid te bereik.