Kankervereniging rig palliatiewe sorgeenheid in hoofstad op

Die Namibiese Kankervereniging sê ‘n palliatiewe sorgeenheid sal in die hoofstad teen ‘n koste van 10 miljoen Namibiese dollar op die been gebring word. Die sentrum sal volgens die vereniging se uitvoerende hoof, Rolf Hansen, 25 beddens met 24-uur sorg bied en sal beide staats- en privaatpasiënte dien. Hansen sê verder die sorgprogram is ontwikkel in vennootskap met die Universiteit van Kaapstad, Groote Schuur-hospitaal en twee ander sorgsentrums in die Wes-Kaap. Palliatiewe sorg vir kankerpasiënte is plaaslik baie uitdagend met die koste daarvan wat baie families noodsaak om pasiënte self by die huis te versorg. Die sentrum sal dus dié gaping vul.