Agri-inflasie bereik rekordvlakke van amper 20%

Landbou-produksiekoste het aansienlik toegeneem sedert Junie 2021 as gevolg van insetprysverhogings, wat in sommige gevalle met meer as 50 persent gestyg het, byvoorbeeld brandstof wat 57 persent op is en ureum wat 102 persent duurder is. Die Namibiese Landbou-unie sê agri-inflasie het tot rekordvlakke van 19,6 persent gestyg. Maar, vee-inkomste het verbeter as gevolg van gunstige pryse wat in die tweede kwartaal aangeteken is en die bemarking van diere het goed gevaar in die eerste helfte van die jaar. Daar is 20,3 persent meer beeste, 38 persent meer skape en 8,5 persent meer bokke hierdie seisoen bemark vergeleke met dieselfde tydperk in 2021. Volgens die NLU word geen verligting in produksiekoste in die volgende kwartaal verwag nie aangesien internasionale en dus plaaslike voer-, kunsmis- en brandstofpryse na verwagting hoog sal bly.