Kandjeke looi Grootfontein, weer

Die ouditeur-generaal Junias Kandjeke het weer ‘n nadelige ouditopinie aan die Grootfontein munisipaliteit gegee vir die 2018-2019 finansiële jaar. Volgens Kandjeke is daar 11 kwessies wat kommer wek. Die munisipaliteit, een van die grootste in die land, het nie ‘n enkele bate op sy register nie. Hy voeg by dat die owerheid die ouditeur probeer mislei het in verband met sy belegging in Cenored en daar is ‘n verskil van amper 9 miljoen dollar waarvoor geen verantwoording gedoen kan word nie. Terwyl die munisipaliteit sê hy het erwe verkoop is daar geen bewys daarvan nie. Die owerheid sê hy het 4,8 miljoen dollar hierdeur verdien maar, die fondse is nie daar nie. Die munisipaliteit het ook deurgeloop oor sy 2015-2016 verslag omdat 73 miljoen dollar eenvoudig weg was.