Kampala meld eerste Ebola-geval aan

’n Ebola-pasiënt is in ’n hospitaal in Uganda se hoofstad Kampala dood. Die land se gesondheidsministerie sê hy is die 19de slagoffer in die huidige uitbreking van die dodelike virus, maar is die eerste wat in Kampala gesterf het. Daar is 54 bevestigde gevalle in Uganda, maar geen ander is in die stad aangeteken nie. Die persoon wat in Kampala gesterf het, was reeds aan die owerhede bekend dat hy moontlik met die virus in aanraking gekom het. Hy is nie ‘n inwoner van Kampala nie, maar dr. Jane Ruth Aceng, minister van gesondheid, sê die man het van sy dorpie weggehardloop, sy identiteit vermom en ‘n tradisionele geneser in ‘n ander streek besoek.