Kaapse brand: Parlement se biblioteek is veilig

Altesaam 20 brandbestryders was vanoggend vroeg steeds op die toneel ná gister se brand by die Parlementsgebou in Kaapstad. Hulle gee aandag aan smeulende brandpunte op die vierde verdieping van die Nasionale Vergadering waar die brand weer opgevlam het. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die Parlement se biblioteek is veilig, maar daar is moontlik rookskade aangerig. Groot skade is aangerig aan die nuwe vergadervleuel wat die Nasionale Vergadering-saal insluit. Die ou Volksraadgebou se dak het ingestort. Daar is geen skade aan die speaker se kantore nie.