Junius, Diergaardt: Kritiek maar stabiel

Plaaslike media berig dat beide Rehoboth-burgemeester Enrico Junius en sy vriend Quintin Diergaardt stabiel is ten spyte daarvan dat hulle steeds kritiek is. Volgens die Afrikaanse dagblad, Republikein, is die twee na die Life Kingsbury-hospitaal in Kaapstad vervoer omdat daar nie beskikbare beddens in die brandeenheid by Tygerberg-hospitaal was nie. Junius en Diergaardt is Woensdagmiddag op Junius se plaas Waldesruhe suid van Rehoboth deur vlamme oorval toe hulle met brandbestryding besig was. Werkers was besig om ’n plaashek te sweis toe vonke die gras aan die brand gesteek het. Junius het 60 persent brandwonde opgedoen en Diergaardt 55 persent. Hulle word deur verskeie spesialiste behandel en daar word op die stadium teen infeksie gewaak. Die burgemeestersvrou, Cecilia Junius, sê uit Kaapstad die dokters is tevrede met haar man en Diergaardt se vordering.