Jonathan – die verruklikste ou toppie ooit!

Die eiland van St. Helena herdenk die verjaardag van die wêreld se oudste lewende landdier – ’n Seychelle-reuseskilpad Jonathan, wat 190 word. Die woning van die eiland se goewerneur, waar Jonathan die grootste deel van sy lewe deurgebring het, vier die geleentheid deur vir drie dae oop te maak vir besoekers wat die “historiese mylpaal” wil vier. Daar is ook ‘n reeks gedenkseëls gemaak. Alhoewel daar geen werklike rekord van sy geboorte is nie, word daar vermoed dat Jonathan omstreeks 1832 gebore is. Hy is in 1882 vanaf die Seychelle na St. Helena gebring as ‘n geskenk aan sir William Grey-Wilson – wat later goewerneur geword het. Daar is sommige wat meen dat hy nader aan 200 jaar oud is. Hy is lief vir koejawels maar vreet blykbaar vreeslik morsig omdat hy die vrugte gereeld mis hap.