Japan steier ook onder swaar sneeustortings

Minstens 17 mense is die afgelope week dood en meer as 90 is beseer in swaar sneeu oor groot dele van Japan. Amptenare van die land se rampbestuur sê sowat 20 000 huise is op Kersdag sonder krag gelaat. Mense was in voertuie op snelweë gestrand en die lewering van dienste is ook vertraag. Baie van diegene wat gesterf het, het geval terwyl hulle sneeu van hul dakke verwyder het. In die noord-oostelike dele van Japan is reeds drie keer die gemiddelde sneeuval vir die seisoen gemeet.