Jagluiperds vir eerste keer sedert 1960’s in Mosambiek

Jagluiperds gaan vir die eerste keer sedert die 1960’s in die Maputo-natuurreservaat in die suide van Mosambiek te sien wees. Vier van die groot katte is aan die reservaat geskenk en is veilig na hulle aanhoudingskampe vervoer. Hulle gaan eers hier akklimatiseer voor hulle in die reservaat vrygelaat word. Die direkteur-generaal van die Mosambiekse Nasionale Administrasie vir Bewaringsgebiede, Mateus Mutemba, sê twee mannetjie-jagluiperds is van KwaZulu-Natal ingevlieg terwyl ‘n volwasse wyfie en haar onvolgroeide kleintjie van die Noord-Kaap ingevlieg is. Hy sê die loslating van die jagluiperds is nog ‘n geskiedkundige mylpaal vir die land.