IPC-raadslid verskyn op Mariental op dwelmklagtes

Adjunk-kommissaris Eric Clay van die Hardap-polisie het aan plaaslike media bevestig dat die IPC se Mariental-raadslid Shekutamba Michael Jonas vandag in die hof op die dorp sal verskyn op dwelmklagtes. Volgens wat berig word, is dwelms ter waarde van 231 000 Namibiese dollar by ‘n drankwinkel op die dorp gevind. Jonas se vermeende medepligtige Ben Muharukua het reeds verskyn en bly in aanhouding. Jonas is die tweede IPC raadslid wat in minder as ‘n jaar gearresteer is. Verlede jaar is Simeon Martin, van Kalkrand se dorpsraad, in hegtenis geneem vir veediefstal. Hy is onmiddellik uit partystrukture verwyder.