Inwoners van Oos-Java vlug van vulkaan

Duisende inwoners in Oos-Java, Indonesië was vandag so te sê op die spreekwoordelike hete kole nadat ‘n kragtige uitbarsting van die eiland se hoogste vulkaan owerhede genoop het om almal in ‘n radius van agt kilometer om Semeru te ontruim. Semeru, teen 3 676 meter die hoogste berg op die eiland Java, het Sondagmiddag uitgebars. Meer as 2 500 mense moes noodgedwonge ontruim en het onder meer per motorfiets van die vulkaniese uitbarsting gevlug. Semeru het verlede jaar ook uitgebars. Meer as 50 mense is toe dood en duisende inwoners is ontheem.