Ingrypings vir landbou deur GRN bevestig

Die Namibiese regering het verskeie ingrypings in die landbou-sektor bevestig. Die sektor staar reuse-uitdagings in die gesig met swak reënval in die afgelope seisoen en voorspellings vir El Nino in die komende seisoen. Volgens die landbouministerie, moet meer trekkers in akkerbou-gebiede beskikbaar gestel word om ook kleinskaalse boere by te staan met aanplantings. Van die trekkers moet herstel word wat ook prioriteit sal kry. Diesel en ander landbou-insette soos saad en kunsmis moet ook voorsien word en laasgenoemde moet gesubsidieer word. Droogteverligting sal nodig wees vir Ohangwena, Oshana en Oshikoto. Watervoorsiening moet ook verbeter word met lae druk wat in Omusati en Oshikoto aangespreek word. In Erongo, Omaheke en Oshikoto moet nuwe gronddamme geskep word om voldoende watervoorsiening aan veral landelike gebiede te verseker.