Ingeperkte Chengdu in China deur aardbewing geruk

Minstens 21 mense is dood in ‘n aardbewing van 6,8 in China se suidwestelike provinsie Sichuan. Internasionale nuusagentskappe berig die aardbewing het grondverskuiwings veroorsaak en geboue in die bergagtige Luding-distrik van Chengdu, die provinsiale hoofstad, geskud. Die stad met sy 21 miljoen inwoners is tans ingeperk weens Covid-19. Sichuan wat op die rand van die Tibetaanse plato lê waar die tektoniese plate byeen kom, word gereeld deur aardbewings getref. Twee aardbewings het in Junie tot die dood van minstens vier mense gelei. Volgens Chinese owerhede het rotse en grond van berghange weens die aardbewing skade aan geboue en paaie veroorsaak.