Informele sektor het regeringsbeleid nodig

Die sekretaris-generaal van die Namibiese Organisasie vir die Informele Sektor, Joseph Kandenge sê aan plaaslike media dat die tekort aan ‘n regeringstrategie vir die informele sektor ‘n groot bron van kommer is. Die belangrikheid van die sektor kan nie oorbeklemtoon word nie. Die Namibiese Statistieke-agentskap se 2018-berekenings toon dat die sektor meer as 30 persent aan die plaaslike ekonomie bydra het, met die arbeidsministerie se ontledings wat toon dat 40 persent van werksgeleenthede deur die sektor verskaf word. Volgens die Dynamic Informal Traders’ Association groei die sektor ook jaarliks met 5 persent. Kandenge sê maatskaplike beskerming vir die sektor is baie belangrik. In sy mening moet ‘n kommissie in die verband daargestel word. Die arbeidsminister Lucia Iipumbu het onlangs ‘n nuwe beleid bekend gestel om die sektor te help transformeer om sodoende ‘n groter bydrae aan die hoofstroom-ekonomie te maak. Terwyl die sektor nie belasting betaal nie, bestee hy wel sy inkomste in die plaaslike ekonomie.