Informele sektor groei sterk

Informele handel was tot onlangs nog verantwoordelik vir net meer as 30 persent van die Namibiese ekonomie en volgens die jongste syfers, beslaan die bedryf 56 persent van die land se werksmag. Volgens Tangeni Shindondola van die Dynamic Informal Traders Association, bekend as Dita, groei die sektor jaarliks met 5 persent. Dita het ‘n studie oor die sektor vir die Internasionale Arbeidsorganisasie gedoen. Volgens Shindondola, het ‘n tekort aan formele werkgeleenthede sowel as die afdankings en afleggings as gevolg van die pandemie, nog verder tot die sektor bygedra. En terwyl die sektor groei, is daar geen melding daarvan in enige van die ontwikkelingsplanne in die land nie. Die groter meerderheid van die handelaars betaal ook nie belasting nie.