Informele handelaar vas nadat sy drank, sigarette aan skoolkinders verkoop

‘n Informele handelaar naby ‘n skool in Khomasdal in die hoofstad is in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn op klagte dat sy die doeanewet, drankwet en kinderbeskermingswet oortree het. Dit is nadat Johanna Johannes, 42, gevang is dat sy aan die skoolkinders onwettige Angolese whisky, wat in sakkies verpak is, sowel as onwettige sigarette, verkoop het. Na talle uitdagings by ‘n sekondêre skool, sowel as bendegeweld wat uitgebreek het en verskeie beserings veroorsaak het omdat die kinders met messe baklei het, is ‘n operasie deur owerhede geloods en Johannes is gevind. Owerhede sal alle handelaars naby skole fyn monitor. Johannes bly in aanhouding en die ondersoek duur voort.