Indringerbos steeds ‘n groot uitdaging in Namibië

Ongeveer 45 miljoen hektaar van Namibië se landbougrond het indringerbos en moet ontbos word. Die omgewingsminister Pohama Shifeta sê veral droëer gebiede waar daar reeds weiding uitdagings is, loop die ergste deur. Bosindringing word gedefinieer as die  verdikking van aggressiewe ongewenste houtagtige spesies wat lei tot ‘n wanbalans van die gras-bos verhouding, ‘n afname in biodiversiteit, en ‘n afname in drakrag. Dit kom voor in beide die kommersiële en kommunale gebiede. As die grasbedekking oorbenut word, verloor dit sy mededingende voordeel en kan dit nie meer water en voedingstowwe doeltreffend gebruik nie. Dit lei tot hoër watervlakke ondergronds wat bome en bosse bevoordeel. Maar, met goeie bestuur kan graslande weer teruggewin word, veral met die vervaardiging van boskos.