Indonesiese President hoop dit is die laaste sokkertragedie

Die dodetal van die sokker-stormloop in Malang op die Indonesiese eiland Oos-Java het gestyg na 174 met 180 mense wat beseer is. Paniekerige toeskouers is vertrap en versmoor terwyl hulle van ‘n oproer probeer vlug het, sê owerhede. Die polisiehoof in die streek, Nico Afinta, sê dit is die grootste tragedie in dié sport in 50 jaar. Indonesiese President Joko Widodo, sê hy hoop dit is die laaste sokker-tragedie in die land en veiligheidsmaatreëls by stadions moet geëvalueer word. Alle wedstryde in die top-liga is gekanselleer.