Indië: owerhede reeds vroeg in Maart gewaarsku

‘n Forum van wetenskaplike raadgewers, wat deur die Indiese regering aangestel is, het reeds vroeg in Maart owerhede in daardie land gewaarsku oor ‘n nuwe, meer aansteelike Covid-variant wat teenwoordig in die land is. Vyf van die wetenskaplikes wat deel van die groep is het met internasionale nuusagentskappe in die verband gepraat. Hulle sê ten spyte van die waarskuwing het die regering geen stappe geneem om inperkings te versterk nie. Indië gaan op die oomblik gebuk onder ‘n ongekende tweede vlaag met meer as 376 000 gevalle wat in 24 uur aangemeld is. Daar is net minder as 20 miljoen kumulatiewe gevalle in die land bevestig. Die Indiese variant is reeds in 17 ander lande bevestig.