Impalila-ramp: Oorskot nog op Katima, wrak op pad hoofstad toe

Die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi het bevestig dat die liggame van die vyf slagoffers van verlede week se vliegtuigongeluk by Impalila-eiland in die Zambezi-streek, nog nie aan hul families vrygestel is nie. Die slagoffers is die Suid-Afrikaanse vlieënier, die 21-jarige Nicole Mienie, en die vier Duitse toeriste – almal lede van dieselfde Rings-gesin. Shikwambi sê die liggame word steeds by die Katima Mulilo-lykshuis gehou, hangende verdere aanwysings van die familielede. Intussen word die vragmotor met die wrakstukke en enjin van die vliegtuig vandag in Windhoek verwag nadat dit Woensdag uit Kasane in Botswana vertrek het. Die wrak is met behulp van polisieduikers uit die Zambezirivier gehaal. ‘n Voorlopige ongeluksverslag sal na verwagting volgende week deur die vervoerminister John Mutorwa vrygestel word.