Impalila-ramp: Ondersoekspan kom vanoggend aan

‘n Ondersoekspan wat deur die Direktoraat van Vliegtuigongelukke in die vervoerministerie aangestel is kom vanoggend op Impalila-eiland aan. Die tweemanspan sal die toneel ondersoek om die oorsaak van die noodlottige ongeluk, waarin vyf mense dood is, vas te stel. Magnus Abraham, direkteur van ondersoeke by die direktoraat sê die saak word baie ernstig opgeneem. Hy voeg by dat die span per pad gereis het omdat die Katima Mulilo-landingstrook gesluit is vir opknapping. Die ongelukstoneel is deur die Namibiese polisie afgesper. Volgens Abraham sal nog kundiges ontplooi word, sou die voorlopige verslag aandui dat dit nodig is. Die Cessna 210 het Dinsdagmiddag net na hy opgestyg het, neergestort op die eiland. Al vyf insittendes, insluitend die loods en a Duitse familie van vier, is dood.