Ian looi Kuba, woed nou in Florida

Kragtoevoer is herstel in dele van Kuba waar die orkaan Ian die weste van die eiland getref het voor dit as ‘n kategorie vier-storm na Florida beweeg het. Daar word berig amptenare het vroeër gesê die kragstelsel het in duie gestort nadat een van die land se hoof-kragaanlegte nie weer in diens gestel kon word nie. Twee mense is volgens berigte dood en geboue is landwyd beskadig. Die hoof van Kuba se elektrisiteits-owerheid sê die landwye kragonderbreking het 11 miljoen mense in duisternis gedompel. Intussen woed Ian oor Florida en die skade sal eers wanneer dit lig word, bepaal kan word. Meer as 2 miljoen mense in die deelstaat is tans sonder krag.