Huldeblyke stroom in vir ontslape Tutu

Huldeblyke stroom van regoor die wêreld in vir Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu wat vanoggend in Kaapstad op die ouderdom van 90 oorlede is. Tutu was alombekend vir sy anti-apartheid standpunt en het in 1984 die Nobel Vredesprys gewen, destyds die tweede Suid-Afrikaner na Albert Luthuli dit in 1960 ontvang het. Tutu het tydens sy kerkloopbaan, wat in 1956 begin het, altyd gesê kerke op die vasteland moet opstaan teen onderdrukking. Hy was ook een van die 17 kommissarisse van die Waarheid en Versoeningskommissie van Suid-Afrika. Sy seun Trevor het vanoggend op Twitter gesê Tutu se vrou Leah was by hom tydens sy afsterwe. Die sekretaris-generaal van die Namibiese Raad van Kerke, Ludwig Beukes het so hulde aan Tutu gebring.

President Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika sê Tutu was deel van verskeie generasies wat bygedra het tot vryheid en demokrasie in die buurland. Hy het al sy vaardighede en invloed gebruik vir die beswil van ander.