Huis van Verteenwoordigers steeds sonder ‘n speaker

Amerika se Huis van Verteenwoordigers sal vandag weer vergader na ‘n geskiedkundige dag waarop lede tydens drie rondes van stemming nie ‘n speaker kon verkies nie. Die Republikeine het in November se verkiesing met ‘n skrale meerderheid beheer oorgeneem, maar hul kandidaat, Kevin McCarthy, kon nie genoeg steun werf om verkies te word nie. Hy ondervind nou ‘n paleisrevolusie in sy eie party van lede wat glo hy leun te ver oor na die hoofstroom en is te magsbehep. Dit is die eerste keer sedert 1923 dat die huis nie in die eerste ronde ‘n speaker kon verkies nie.