Hoofstad se bouplanne vir Junie vertoon goed

Stad Windhoek het in Junie ‘n totaal van 227 bouplanne goedgekeur, wat ‘n 55,5 persent verhoging op ‘n maandelikse grondslag verteenwoordig teenoor die 146 bouplanne wat in Mei goedgekeur is. In sy ontleding van die planne, sê IJG Sekuriteite dat die planne ‘n beraamde waarde van 398,2 miljoen Namibiese dollar het. Dit is 237,2 persent meer as wat in Meimaand aangetekend is. Vanaf die begin van die jaar is 1 139 bouplanne goedgekeur ter waarde van net meer as 1 miljard dollar, effe hoër as in 2021. Die makelaarsfirma sê ook 73 bouplanne ter waarde van 43,8 miljoen dollar is gedurende Junie voltooi.