Honde in plaas van kinders geseën November 15, 2023
’n Tradisionele seremonie vir kinders vind aanklank onder troeteldiereienaars in Japan, waar honde en katte al hoe meer aandag geniet te midde van die land se dalende geboortesyfer. Eienaars neem hulle dierekinders na die Zama-heiligdom, wat uit die 6de eeu dateer en sowat 35 kilometer suidwes van Tokio geleë is. Die heiligdom huisves sedert 2012 Shichi-Go-San-rituele waar troeteldierouers kan bid vir die gesondheid en geluk van hul diere. Die ritueel, wat Sewe-Vyf-Drie in Japannees beteken, word tradisioneel in die middel van November gevier vir kinders wat daardie ouderdomme bereik. Ouers trek hul meisies en seuns in kimono’s aan en bring hulle na ‘n Shinto-heilige plek vir die seremonie. Maar, daar’s minder menskinders en meer dierekinders.