Hof wag vir Bushiri’s uit Malawi

Die saak teen die omstrede egpaar, Shepherd Bushiri en sy vrou Mary, is in die hooggeregshof in Pretoria tot November uitgestel, hangende hulle terugkeer uit Malawi. Die twee het in November verlede jaar na hulle geboorteland gevlug nadat hulle in die Pretoria-landdroshof borgtog toegestaan is. Suid-Afrika het gevra dat hulle uitgelewer moet word en daardie proses gaan volgende week in Malawi voort. Die Bushiri’s en hulle medebeskuldigdes word aangekla van bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Die bedrag ter sprake beloop sowat 15 miljoen Namibiese dollar. Die Bushiri’s het ook al in Namibië kom kerkbyeenkomste gehou.