Historikus sê kunswerke is beter af in die buiteland

Reaksie is ontvang oor die drie skilderye van die Namibiese kunstenaar Adolph Jentsch wat in Mei tydens ‘n aanlynveiling deur die Suid-Afrikaanse veilingshuis Strauss & Company opgeveil gaan word. Daar word verwag dat van sy skilderye N$1 miljoen kan haal. Historiese kenner Dr. Andreas Vogt het met Kosmos 94.1 Nuus gesels en gesê Namibiërs heg nie werklik waarde aan kuns nie. Hy sê dit is waarom kuns die land verlaat. Sy mening is as in die buiteland beter na ‘n kunswerk omgesien word, is dit beter vir die kunswerk, want in Namibië word kunswerke en monumente net geplunder en gesteel.