Hewige gevegte duur voort tussen Israel, Hamas

Hewige gevegte duur voort in Israeliese grondgebied nadat Hamas militante gister vanuit die Gaza-strook die grens oorgesteek het. Israeliese oorlogsvliegtuie het sedertdien 150 teikens in die Gaza-strook getref. Dit sluit in verskeie geboue waar Hamas-leiers glo woonagtig is, volgens die BBC se verslaggewer in Gazastad. Palestynse amptenare sê 256 burgerlikes is deur die Israeliese aanvalle gedood, met byna 1 800 mense wat gewond is. Minstens 250 Israeli’s is glo dood, en dosyne is deur Hamas ontvoer. Israel se weermag sê daar is steeds agt “punte van betrokkenheid” met Hamas-militante binne sy grondgebied, en beweer hulle het beheer herwin oor 22 plekke in die land se suide. Israel se premier Benjamin Netanyahu sê die land betree ‘n “lang en moeilike oorlog”, wat volgens hom op hulle afgedwing is deur ‘n moorddadige aanval deur Hamas. Intussen het die Libanese militante groep Hezbollah ook by die gevegte betrokke geraak en gesê dit was agter aanvalle op Mount Dov, ‘n stuk grond wat deur Israel, Libanon en Sirië geëis word. Israel het gereageer deur op Libanon te skiet.