Eswatini se polisie-hoof sterf by lughawe

Die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Fannie Masemola, het medelye betuig met die Koninklike Polisiediens van Eswatini en die familie van Eswatini se nasionale polisiekommissaris William Dlamini. Dlamini het gisteroggend by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg inmekaargestort en gesterf. Dlamini het uit Angola aangekom waar hy die 26ste Interpol Afrika-streekskonferensie bygewoon het. Die redakteur van Swaziland News, Zweli Dlamini het aan Newzroom Afrika gesê die kommissaris was nie gesond nie.