Hausiku kry 37 jaar vir bylmoord op boer, verkragting van sy vrou

Kazana Hausiku is vanoggend in die hoërhof in Windhoek tot 37 jaar en ses maande tronkstraf gevonnis vir die moord van ’n boer van die Otjimbingwe-omgewing wat hy met ’n byl doodgeslaan het. Hy het ook sy vrou verkrag en ontvoer. Hausiku het in die hof aangevoer dat hy Hendrik Coetzee, 59, in selfverdediging in die kop met ‘n byl geslaan het en dat Coetzee se vrou, Maria aangebied het om hom dorp toe te neem. Hy het die voertuig naby Wilhelmstal omgegooi en vlug ingeslaan. Hy is uiteindelik op Rundu gearresteer. Regter Naomi Shivute het Hausiku in Augustus aan ses klagte skuldig bevind, naamlik moord, verkragting, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, die bestuur van ’n voertuig sonder ’n lisensie asook roekelose en/of nalatige bestuur.