Hatuikulipi-saak: Partye kom nie regter se opdrag na nie

Die skikking wat blykbaar tussen die Fishrot-beskuldigde Tamson Hatuikulipi en sy vrou Ndapandula met L.I.T. Construction in die hoërhof bereik is, is nog nie gelaai op die regstelsel nie. Regter Collins Parker het die partye opdrag gegee om teen Maandag of die ooreenkoms of ‘n statusopdatering te voorsien vir die verhoor wat vandag voorkom. Die saak handel oor boumateriaal. Die egpaar het op 5 November 2019, drie weke voor Tamson gearresteer is in verband met Fishrot, ‘n ooreenkoms met die konstruksie maatskappy aangegaan. Hulle het 646 188 Namibiese dollar se boumateriaal aangekoop en laat aflewer by hul erf in Ganas-straat in Auasblick. Dit is nie betaal nie en die maatskappy het die egpaar, saam met JTH Trading, wat borg geteken het vir die Hatuikulipi’s, hof toe gesleep.