Hardap word weer uitgetap, Naute was ook oop, Vis loop by Ai-Ais

Hardapdam se sluise is weer oopgetrek. Die Mariental-munisipaliteit sê invloei was teen Donderdagmiddag op net minder as 300 kubieke meter water per sekonde wat teen namiddag sy piek sou bereik. Maar, water van Draaihoek en Dirichas is in die nag verwag en dus is die sluise op 300 kubieke meter per sekonde getrek. Intussen sê die Namibiese hidrologiese diens dat die Visrivier by Ai-Ais loop, veral as gevolg van water wat by die Suide se damme vrygestel is. Neckartaldam loop steeds oor en is op 100,7 persent van kapasiteit en Nautedam, naby Keetmanshoop se sluise was ook Woensdag oopgetrek om die dam se vlakke af te bring. Die dam staan tans op net minder as 98 persent. Voorspellings vir vandag sluit ook goeie neerslae in die verre noordweste van die land.