Geingos se lastersaak uitspraak is vandag

Uitspraak word vandag verwag in die hoërhofsaak waar die presidentsvrou Monica Geingos, Abed Hishoono, ‘n onderwyser by die Elao Gekombineerde Skool in Ohangwena vir laster dagvaar. Regter Orben Sibeya het vroeër die week slotbetoë aangehoor. Geingos eis 350 000 Namibiese dollar in skadevergoeding van Hishoono, wat ook optree as ‘n mobiliseerder vir die IPC-party. Sy sê hy het tussen 12 en 16 Februarie verlede jaar ‘n stemgreep op sosiale media gesirkuleer waar hy sê dis haar skuld dat Air Namibia bankrot is as gevolg van haar aandeel in WestAir en dat sy betrokke was by die likwidasie van die redery om haar eie belange te bevorder. Sy sê verder dat hy ook gesê het sy is in ‘n verhouding met James Hatuikulipi, een van die Fishrot-beskuldigdes en dat sy ‘n seun by hom het. Hishoono het ook volgens haar gesê Hatuikulipi het haar huwelik met President Geingob bewerkstellig. Hishoono, wat homself verdedig het in die hof beken dit was onwaar maar het regter Sibeya vir genade gevra omdat hy nie geld het nie. Hy sê hy het in Oktober getrou en het skuld om af te betaal.