Grootfontein-boerin ontvang N$10 000 borg

Die boerin van Grootfontein, die 65-jarige Magriete Wilhelm is borgtog van 10 000 Namibiese dollar in die Otavi-landdroshof toegestaan. Die Suid-Afrikaanse vakbond Solidariteit, sowel as die Namibiese gemeenskap het fondse vir haar ingesamel om haar regskostes te betaal. Wilhelm is reeds op 16 Maart gearresteer na die dood van die 31-jarige Sakaria Kaandje wat drie keer in die kop geskiet is toe hy buite haar huis op haar plaas Fokshof, 100 kilometer buite Grootfontein, deur haar aangetref is. Borg is nie deur die staat teengestaan nie en haar saak is tot 23 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.