Groot verskille tussen prys by die plaashek, en prys op winkelrak

Die Namibiese Akkerbouraad het verskeie groentepryse vir September vanjaar bekend gemaak, dit wat by die plaashek betaal word en dit wat die verbruiker in Windhoek betaal. Vir 1 kilogram aartappels ontvang die boere 6 dollar 70 terwyl die verbruiker drie keer meer betaal op 19 dollar 90. Vir een kilogram uie ontvang die boer 9 dollar 80 en die verbruiker betaal twee keer meer op 22 dollar 30. Vir tamaties betaal die verbruiker 29 dollar 50 terwyl die boer 12 dollar 95 verdien. Botterskorsies kos die verbruiker 15 dollar 80 per kilogram en die boer verdien ‘n skamele 3 dollar 20. Vir wortels is daar ‘n 10 dollar verskil per kilogram van plaashek na winkelrak. Boere kry 8 dollar en verbruikers betaal 18. Patats lyk nog erger. Boere ontvang per kilogram 8 dollar en die verbruiker betaal 26. Vir ‘n kilogram rooi soetrissies kry die boer 30 dollar en die verbruiker betaal amper 70 dollar en vir geel soetrissies? Die boer ontvang ook 30 dollar ‘n kilogram en die verbruiker dok 83 dollar en 56 sent uit.