Groot belegging in bloubessies

Königstein Capital, wat tot dusver meer as 100 miljoen Namibiese dollar in die Mashare-bloubessie aanleg belê het, beplan om sy belegging in die volgende 10 jaar tot meer as ‘n miljard dollar te verhoog. Königstein het deur sy beleggingsinstrument Spitz Capital, waar die Staatsinstellings Pensioenfonds (GIPF) die primêre belegger is, die eerste twee fases ontwikkel wat altesaam 60 hektaar bloubessies onder produksie het. ‘n Verdere 140 hektaar word beplan vir die derde ontwikkelingsfase wat vanjaar sal begin. Die uitbreiding sal 500 permanente en 10 000 seisoenale werksgeleenthede skep. Ongeveer 95 persent van die produk word uitgevoer en plaaslik word die res bemark as Namib Blue. Die maatskappy is tans besig met ‘n proeflopie met avokado’s.