Groenskema lê 3 jaar braak, maar personeel word betaal

Plaaslike berigte lui dat 32 werknemers by die Ndonga Linena groenskema sedert 2019 salarisse ontvang sonder dat enige werk gedoen word. Die groenskema lê braak en daar is geen produksie nie. Die parlementêre staande komitee op natuurlike hulpbronne, gelei deur oud-handelsminister Tjekero Tweya, het besoek by die skema afgelê. Volgens wat berig word, is daar begroting gegee vir salarisse maar daar is nie fondse beskikbaar gestel vir boerdery-bedrywighede nie. Die toerusting is blykbaar ook onbruikbaar omdat daar geen instandhouding is nie. Groenskemas en hul swak produktiwiteit is ‘n geruime tyd in die nuus en die landbouminister Calle Schlettwein wil vennootskappe met die privaatsektor aangaan om produksie te verbeter.