Griner se aansoek om te appelleer in Rusland geweier

‘n Russiese hof het die Amerikaanse basketbal-ster, Brittney Griner, verlof tot appèl geweier teen haar vonnis van nege jaar tronkstraf op ‘n aanklag van dwelmbesit. Die tweemalige Olimpiese gouemedalje-wenner is in Februarie op ‘n lughawe naby Moskou vasgetrek toe sy met damp-houertjies vol dagga-olie in haar bagasie betrap is. Die 32-jarige speler is in Augustus skuldig bevind aan die smokkel en besit van dagga-olie. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê die weiering van Griner se appèl is nog ‘n mislukking van geregtigheid, tesame met die onbillikheid van haar aanhouding.