Google kyk mooi na sy mense

Daar is lank reeds berig dat Google sy werknemers goed behandel, van die aanbied van gratis kos en fiksheidsklasse, tot wasgoeddienste en motorwasserye. Maar Google bied ook sterftevoordele aan werknemers, asook die gade of lewensmaat van ‘n personeellid wat afgesterf het. Hierdie voordele sluit in dat die lewensmaat wat agter bly, vir ‘n dekade die helfte van hul geliefde se salaris ontvang.

Foto: Britannica

Mashable het met ‘n Google-woordvoerder bevestig dat die voordele nie net by salaris stop nie. Die oorlewende-gade of lewensmaat van ‘n oorlede werknemer sal ook gevestigde aandelevoordele verkry, en kinders sal US$1 000 (sowat N$18 850) per maand ontvang tot op die ouderdom van 19. Die tydlyn kan verleng word as die kind voltyds studeer.

Google sê hy volg hierdie benadering omdat dit die regte ding is om te doen, om te verseker dat daar na elke werknemer se gesin omgesien word as ‘n onvoorsienbare gebeurtenis sou plaasvind – selfs al is daar geen direkte voordeel vir die besigheid nie.