GIPF beplan leningskema vir behuising, Namfisa sê pensioengeld mag so gebruik word

Die Namibiese Finansiële Instellings Toesighoudende Owerheid, Namfisa, sê sy huidige regulasies laat pensioenfondse toe om direk ‘n gedeelte van hul spaarfondse aan lede te leen om of eiendom te koop of om opknappings aan bestaande te doen. Boonop laat die Wet op Pensioenfondse toe dat die fondse pensioengesteunde waarborge kan verskaf aan persone wat behuisingslenings vat. Namfisa se uitoverende hoof Kenneth Matomola, sê die omstrede Wet op Finansiële Instellings en Markte maak ook voorsiening vir pensioengesteunde eiendomslenings. Die nuus kom na die Staatsinstellings Pensioenfonds aangekondig het dat dit in ‘n gevorderde stadium is van die bekendstelling van ‘n pensioengesteunde huisleningskema wat lede sal toelaat om hul pensioen as kollateraal te gebruik om eiendom te koop of op te knap. Die fonds sê die beplande leningskema sal ook befondsing vir die bou van eiendom selfs in die landelike gebiede toelaat.