Geweldsmisdaad styg in SA

Die Suid-Afrikaanse Minister van Polisie Bheki Cele het sy kommer uitgespreek oor die styging in geweldsmisdaad en veral moord in die land. Cele het die kwartaallikse misdaadstatistiek-verslag bekend gemaak waaruit dit blyk dat 4 976 mense tussen Januarie en Maart vanjaar in Suid-Afrika vermoor is. Dit toon ‘n toename van 8,4 persent terwyl syfers in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal meer as 10 persent is. Hy sê die vier hoofoorsake vir moorde is steeds rusies, roof, gepeupelreg en bendegeweld.