Gewapende rooftogte neem toe

Die Namibiese polisie het oor die naweek beslag gelê op dagga ter waarde van 12 750 Namibiese dollar. Twee verdagtes is in Blok C op Rehoboth met die dwelms betrap. Daar is ook meer inligting bekend gemaak oor Vrydagmiddag se gewapende roof. Sewe gewapende mans het ‘n 32-jarige sakeman op die hoek van Ongava- en Ombakata-strate voorgekeer en hom van 100 000 dollar in kontant, sy iPhone-selfoon, sowel as ‘n pistool en haelgeweer beroof. Die totale waarde van die gesteelde goedere beloop 145 000 dollar. Die man was besig om invordering by winkels te doen en is by die laaste winkel voorgekeer. Die verdagtes is onbekend en die ondersoek duur voort. Daar was verskeie ander gewapende rooftogte, ook by ‘n huis op Okahandja en by die Golgotha-begraafplaas in Katutura waar ‘n 74-jarige aangerand is met klippe en sy selfoon en pistool gesteel is.