Gekonfiskeerde wapens bring hoop 

Hierdie is net ‘n bewys dat iets baie donker en negatief omgedraai kan word in ‘n baie positiewe situasie.

In Lima, Peru het plaaslike inwoners en die Andes-land se wapenbeheerliggaam SUCAMEC saamgestaan om die kinders van die area se lewe op te helder met ‘n speelpark waar kinders uitbundig kan lag en giggel op wipplanke en swaaie.

Meer as 5 000 vuurwapens is gesmelt om wipplanke, aapstawe, swaaie en selfs oefenmasjiene by die park in Lima op te rig.

Die wapens is deur owerhede gekonfiskeer en in samewerking met ’n metaalmaatskapy is die gewere herwin. Volgens ’n koördineerder van die buurtraad Danitza Vilca “is hierdie speelgrond ’n droom wat waar geword het danksy die gewere wat voorheen gebruik is om misdade te pleeg, om te moor, maar verskaf nou net trane van vreugde.”

Die park is alreeds ‘n geruime tyd in werking en met ‘n onlangse besoek van joernaliste aan die park het hulle bevind die park is steeds ‘n veilige hawe vir die kinders.