Geingob vies oor kritiek op sy buitelandse reise en reistoelae

President Hage Heingob is hoogs ontvrede oor vandag se voorbladberig van die plaaslike dagblad, The Namibian, waar sy 19 buitelandse reise en reistoelae van sowat drie miljoen Namibiese dollar van 2022 uiteengesit word. In ‘n mediaverklaring van die Namibiese Presidensie, sê Geingob hy het vanjaar nie minder nie as tien buitelandse uitnodigings van die hand gewys. Geingob sê sedert hy staatshoof geword het, skenk hy elke maand 60 000 dollar uit sy presidensiële salaris aan behoeftige gemeenskappe in die land, insluitend om jong Namibiërs met verdere studies by te staan. Die 60 000 dollar word ook gebruik om gemeenskappe in Otavi, Otjiwarongo en Grootfontein te help met die aankoop van voedsel en ander benodigdhede. Geingob het ook erg onder kritiek deurgeloop toe hy die naweek die sokkereindstryd tussen Argentinië en Frankryk by die Wêreldbekertoernooi in Katar bygewoon het.